Ons kan verskillende tale aanleer op skool of universiteit.
Maar min mense besef dat godsdiens ook ‘n taal van sy eie het.
Mense stry dikwels oor godsdiens sonder om te besef dat ons,
wanneer ons oor God en geloof praat, ons eintlik ‘n geloofstaal praat.
Ons praat dikwels van die “soos”-taal van godsdiens.
Ons kan nie in terme van definisies praat nie.

Wanneer Jesus oor God en sy koninkryk gepraat het,
het Hy nooit definisies gebruik nie, maar vergelykings.
Jesus sê:
God is “soos” ‘n pa wat twee seuns gehad het – Luk. 15:11-32.
God is “soos” ‘n boer wat ‘n wingerd gehad het – Matt. 21:33-40.
In Matteus 13:44-50 sê Jesus oor die koninkryk van God:
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit
“soos” met ‘n skat wat in ‘n saailand...
lê..., “soos” met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels...,
“soos” met ‘n treknet wat in die see gegooi is...

Oor God en sy koninkryk kan ons nie in terme van definisies praat nie.
God is baie groter as wat taal of begrippe Hom kan beskryf.
Ons kan God nooit presies beskryf nie.
Daarom gebruik Jesus beelde as Hy oor God praat.
God is soos ‘n pa...soos ‘n regter....soos ‘n koning...
Ons kan ook hierdie beeldspraak korter maak en sê:
God is liefde.
God is koning.
Dit is steeds nie ‘n definisie nie.
Dit is soos om te sê: die maan is ‘n goue bal.

Mag ons met groot begrip luister wanneer ons oor God praat,
en besef dat ons almal woorde kort om Hom,
en ons verhouding met Hom uit te druk.
Hoe wonderlik is dit nie om so ‘n groot God te aanbid en te dien nie!

Ernest