1 Johannes 4:8:
“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”
1 Johannes 4:16: “En ons ken die liefde wat God vir ons het,
en ons glo daarin.
God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.”

Wanneer hier gesê word “God is liefde”,
word hiermee nie ‘n definisie van God gegee nie.
Hiermee word ook nie gesê dat God as’t ware van liefde
“aanmekaar gesit” is nie.
“God is liefde”, is ‘n uitdrukking soos “die maan is ‘n goue bal”.
Daarmee praat ons oor die kleur en die vorm van die maan.
Maar die maan is baie meer as ‘n goue bal.
As ons sê “God is liefde”, sê ons daarmee dat God optree
soos iemand wat waarlik liefhet, in sý geval, weet ons, volmaak liefhet.

Wanneer die Bybel sê “God is liefde”, wil dit sê:
Jy kan daarop reken en vertrou dat God in alle omstandighede is
soos iemand wat jou volmaak liefhet.
Hy het ons “eerste” liefgehad.
Hy het ons liefgehad toe ons nog sondaars was.
Hy het ons lief ten spyte van wat ons is.
Hy hou aan om ons lief te hê al is ons ook wie of wat.
God se liefde beteken oneindig meer,
as wat ons daaronder kan verstaan, of daaroor kan sê.

God is inderdaad baie meer as liefde.
“God is liefde” is geloofstaal,
en ‘n beeld om ons maar iets van God te laat begryp.
God is oneindig meer as liefde,
of enige begrip waarmee die Bybel iets oor Hom sê!

Ernest