Lees verseker Esegiël 16:1-14,
wat een van die treffendste dele is wat beskryf hoe,
en dat God baie meer as net liefde is.
Normaalweg is liefde vir ons ‘n goeie gevoel en ‘n baie sterk emosie.
Esegiël sê God se liefde is veel meer as dit.
In hierdie treffende deel sê Esegiël dat Israel was soos ‘n pasgebore
babadogtertjie wie se ma haar langs die pad weggegooi het om te sterf.
Verse 1-5 beskryf dit. Vers 5 sê “Jy is met afsku behandel,
en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is.”
Toe gaan God daar verby en sien die baba.
Vers 6: “Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel.
Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: “Leef!, groei!”
God los nie die baba daar of neem die baba na ‘n kindersorg eenheid toe nie.
Soos die barmhartige Samaritaan, neem Hy die baba huis toe,
en sorg vir die baba. Verse 6-7.
Daarna het God nog, meer as die barmhartige Samaritaan,
in vers 8 met ‘n eed en ‘n verbond Hom aan hierdie kind verbind,
om altyd vir hierdie kind te sorg. Hierdie kind het God se kind geword.
God se liefde word nie deur aantreklikheid of begaafdheid opgewek nie.
Sy liefde is intense medelye, want Hy is juis lief vir mense
wat soos weggooi babas is en hulpeloos is.
Sy liefde is nie net ‘n lekker gevoel of ‘n sterk emosie nie.
Sy liefde laat Hom doen vir die mens wat verlore is,
hulpeloos is, en swaarkry, soos die baba in Esegiël.
Treffend, en teleurstellend, draai hierdie kind haar rug op God!
Vers 15: “Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid,
jy gebruik jou beroemdheid om ‘n slet te word,
en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enige iemand wat verbykom,
jy word syne.”.....maar God draai nie sy rug op die kind nie...
God doen selfs meer as wat ons ooit sou kon dink,
deur die kruis Van Jesus Christus!
God is liefde.
God is baie meer as net liefde.
Ernest