Ons dink ons weet mos wat liefde is,
en daarom kan ons God se liefde maklik verstaan.
God is liefde, is radikaal...
Matteus 5:43-48 wys vir ons hoe anders God se liefde is.
Vers 44: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê,
en julle moet bid vir die wat julle vervolg,
sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.”
Hy het alle mense lief. Alle mense!
Hy doen goed aan alle mense.
Sy son skyn oor goeie en slegte mense.
Hy laat reën oor mense wat sleg doen, en oor die wat goed doen.
Die feit dat Hy ons liefhet,
is vir elkeen van ons die eerstehandse bewys daarvan.
Hoe goed ken ons nie onsself nie!
Wanneer ons ja sê vir ‘n verhouding met God,
dan sê Hy vir ons: laat jou liefde vir ander mense,
dan net so volmaak wees as My liefde vir jou.
Vers 48: “Wees julle dan volmaak,
soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Dit is radikaal anders as liefde wat jou goed laat voel,
en met sterk emosie gevul is. Dit gaan oor baie meer!
Dit beteken dat jy selfs jou vyande moet liefhê,
en bid vir die wat jou vervolg.
Wanneer ons terugdink aan Esegiël 16 :1-15,
dan is dit duidelik dat God van ons vra om eerste
vir ander mense om te gee,
en nie wag dat hulle vir jou omgee nie.
Dat ons vir mense moet omgee en sorg,
al is hulle soos weggooi kinders.
Al het hulle ons nie lief nie.
Al weet hulle nie eers dat ons vir hulle omgee nie.
Wanneer ons God ons Vader noem,
moet daar familietrekke van Hom in ons wees.
Daarom sê vers 48 “Wees julle dan volmaak,
soos julle hemelse Vader volmaak is.
Dit verander ons lewe,
want liefde in God se terme,
is nie net ‘n mondvol woorde nie,
maar inderdaad ‘n handvol dade!
Kan ons dan volmaak wees,
soos ons hemelse Vader volmaak is, en soos Hy liefhê?
Ja ons kan! In Christus! En deur die Heilige Gees!
Ernest