Hoe kan ons ooit “soos God” liefhê? Matteus 5:48:
“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Hoe kan ons hierdie karaktertrekke van ons Vader vertoon?
Paulus sê daar is net een manier: ons kan dit net “in Christus” doen.
Efesiërs 2:10:
“In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy
aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Ons gee nie vir Christus ‘n plek in ons lewens nie.
Ons lewens moet ‘n plek in Christus kry!
Christus is in ons, om ons, onder ons, bo ons,
en Hy neem ons totale lewe in beslag. Ons leef en werk in Hom.
Daarom kan ons die goeie dinge doen waarvoor Hy ons bestem het.
Daarom is dit nou moontlik om ander mense lief te hê,
soos God se wil hê dat ons hulle moet liefhê.
Jesus het dit ook aan Nikodemus verduidelik,
wat dit beteken om in Hom te leef.
Jy moet “opnuut gebore word”.
Jou hele lewe moet van voor af begin,
asof jy nog nooit gebore was nie.
Om selfs jou vyand te kan liefhê,
moet jy nou “nuut in Christus” leef.
Jy kry dit verseker nie reg uit jouself nie.
Jy kan nie jouself verbeter nie, en sal nooit nie.
Daarvoor moet jy “opnuut gebore word”.
Nuut begin lewe in Christus!
Kolossense beskryf dit as saam met Christus sterf,
en saam met Christus opstaan tot die nuwe lewe.
Kolossense 3:9-10:
“Julle hét met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek,
en leef nou die lewe van die nuwe mens,
wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper,
en tot die volle kennis van God”.
Ons moet “soos God” liefhê.
Ons moet “in Christus” liefhê.
Ernest