Daar is baie mense wat sê dat hulle Christene is,
maar jy kan dit nie in hulle optrede sien nie.
Hulle lewe wys dit nie.
As jy sê dat jy omgedraai het van jou ou lewe af,
dat jy weer gebore is, dat die ou mens in jou dood is,
en dat die nuwe mens in jou lewe,
dan moet dit mos duidelik sigbaar wees.
Hoe word dit vir ander mense duidelik dat jy ‘n nuwe mens is?
Paulus sê daar is één onmiskenbare teken:
Jou lewe word nou deur liefde gekenmerk en regeer.
Maar hy sê ook meer as dit. As jy sê dat jy ‘n Christen is,
maar die manier waarop jy optree weerspieël nie
Christus se manier van doen nie,
is jy soos iemand wat op ‘n plaat staan en slaan,
en net ‘n groot lawaai maak. 1 Kor. 13:1-3.

Selfs al kan jy in tale praat en wonderlike preke afsteek,
of baie vas glo, of ‘n groot Bybelkennis hê,
kan jy steeds iemand wees wat maar net ‘n geraas maak.
Die enigste ware teken dat jy ‘n kind van God is,
is die feit dat jy ander mense liefhet,
selfs jou vyande liefhet, en vir hulle omgee.
Dit is nie liefde as emosie of gevoel nie,
maar ‘n lewenshouding en ‘n lewenswyse.
Daarmee gee jy éérste om vir ander mense,
selfs al weet hulle dit nie, selfs al verdien hulle dit nie,
en jy bly omgee vir hulle, al doen hulle ook wat.
Al is hulle jou vyande. Hierdie liefde is radikaal.
Die Here se liefde is radikaal. Hy het jóú lief,
ten spyte van....

Jy kan nie voorgee dat jy ‘n Christen is nie,
want uiteindelik staan jy voor God daarmee,
en mense sal aan jou lewe sien of dit waar is.
Ons moet mekaar liefhê soos Jesus ons liefhet.
Johannes 15:12: “Dit is my opdrag:
Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.”
Jy kán, as jy in Christus is en in Hom leef!

Ernest