Liefde maak jou eers van binne skoon.
Wanneer die Bybel sê ons moet ons medemens liefhê,
is dit ‘n doelbewuste lewenshouding en lewenswyse,
onder leiding van die Heilige Gees wat in my woon.
Wanneer ek in Christus leef, kom woon die Heilige Gees in my.
1 Korintiërs 13:4 maak dit sommer baie prakties:
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik;
dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie.”
Om lief te hê beteken om éérste geduldig en vriendelik te wees,
en weereens, al verdien die ander mense dit nie.
Maar jy kan nie geduldig wees teenoor iemand,
op wie jy afgunstig is nie!
Jy kan ook nie vriendelik wees teenoor iemand,
as jy grootpraterig en verwaand is,
en reken dat jy beter is as iemand anders nie.
Om geduldig en vriendelik te wees, moet jy onder leiding van
die Heilige Gees eers aan jouself werk.
Jy moet werk aan die afguns wat in jou is,
en jou geneigdheid om te dink dat jy beter as ander mense is.
Wanneer jy deur die krag van die Gees dit oorwin het,
kan jy werklik vriendelik en geduldig wees teenoor ander mense,
en sál jy dit inderdaad wees, omdat dit die vrug van die Gees is!
Liefde maak jou eers van binne skoon voordat dit na buite oorborrel.
Om regtig lief te hê is oorgawe aan die Heilige Gees,
om die Gees nie te weerstaan of te bedroef nie.
Christus se gesindheid kry beheer oor jou lewe!
Filippense 2:5: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees,
wat daar ook in Christus Jesus was...”
Ernest