1 Korintiërs 13:5-6 sê ook hoe prakties liefde is, en groots!
Die liefde “...handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.”
Vers 6: “Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid.”
Ons kan ons liefde eenvoudig toets:
Het ek vandag êrens ongemanierd opgetree?
Het ek my eie belange ten koste van ander mense bevorder?
Het ek my sommer oor ‘n nietigheid vererg?
Het ek besluit ek sal nie vergeet en vergeef
wat iemand aan my gedoen het nie?
Dit is prakties wat vers 5 beteken.
Hou aan met die toets, sonder om moedeloos te word.
Dit laat ons groei om meer en meer soos Jesus op te tree en lief te hê.
Vers 6 beklemtoon dat liefde nie bly is oor onreg wat iemand
aangedoen word nie, maar bly is as die waarheid seëvier.
Jy oorkom jou eie natuurlike naywer, en wraaksug.
Jy tree ter wille van daardie persoon in die bres,
en maak seker dat die waarheid seëvier.
Vers 7 praat verder van hoe groots liefde is:
“Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Liefde is om te glo en te hoop.
As jy iemand liefhet, glo jy altyd dat daardie mens óók kan verander.
Om lief te hê soos die Here ons liefhet,
is om altyd te hoop, en altyd te glo, dat mense kan verander,
om ‘n nuwe mens te word, soos jy ook moes verander...
God het nooit opgehou en opgegee met ons nie...
Om altyd te kan glo dat ander mense nuwe mense kan word,
beteken om die verkeerde dinge wat hulle doen te kan vergewe.
Die liefde verdra alles. Dit bedek alles.
Dit maak die verkeerde dinge van die verlede toe,
in terme van vergifnis, om nie weer daaraan te dink nie.
Die liefde is inderdaad groots!
Ernest