Baie van ons se lewe is soos ‘n trapmeul.
‘n Nimmereindigende aan die gang bly...na nêrens...
Sulke mense is altyd uitgeput....moeg...
Maar hulle is op ‘n “road to nowhere”, soos Creed sing.
Dit voel of hulle lewe hulle regtig nêrens bring nie.
Nie op of af of vorentoe nie!
Hulle werk en sweet en bly op een plek.
Hulle gebruik letterlik al hulle energie om op een plek te bly!
Hulle glo nie aan verandering nie.
Veilig op een plek. Al kos dit wat.
Ons moet besef dat God ons juis gemaak het vir verandering.
As jy nie verander nie, gaan jy dood. So eenvoudig soos dit.
Dennis Scott dui aan dat ons selle in ons liggaam
in sewe jaar geheel en al verander.
Dit is sodat jou vel en selle nie die kneusplekke hou
waar jy stampe en stote verduur het nie.
Jy bly “vars en nuut”.
Ons moet ook geestelik bly groei,
bly verander soos die Heilige Gees ons lei.
Ontdek die sin van die lewe waarna die Here jou wil lei.
Luister na die Heilige Gees en vra jouself af
of jy besig is met dit waarop dit regtig aankom.
Dink ook aan 1 Korintiërs 15:51:
“Kyk, ek maak ‘n geheimenis aan julle bekend:
Ons sal almal verander word.”
Die Here beoog deurgaans in jou lewe verandering,
om meer en meer soos Jesus te leef,
en meer en meer aan sy doel vir jou lewe te beantwoord.
Uiteindelik verander wedergeboorte en bekering jou totaal en al,
en gee sin en rigting aan jou lewe.
En aan die einde word ons nogeens verander, sê 1 Kor. 15:51.
Klim af van die sinnelose trapmeul lewe!
Ernest