In ons samelewing is daar groot druk vir produksie, winste, omset...
Ook vir sukses gemeet aan die materiële. Of posisies wat beklee word.
Dit is alles goed en wel, totdat dit jou lewe totaal begin beheer,
en die lewe vir jou hoofsaaklik daaroor gaan.
Dan is dit soos om op ‘n onbeheerbare roltrap te wees.
Dit is die roltrap lewe. Buite beheer. Net op pad boontoe.
Ten spyte van groot suksesse kan dit net nie stop nie.
Dit bly gaan oor meer en meer.
Die dwarslat word net hoër en hoër gelig.
Mense voel dikwels nooit gemaklik met wie hulle is en wat hulle het nie.
Daar is geen lewe buiten “sukses” nie.
En dieselfde sukses veroorsaak net meer en meer druk.
Tot die druk jou knak.
Anders as die rollercoaster mense, is die roltrap mense só
meegesleur deur gedrewenheid na sukses,
dat hulle nooit kans kry om hul sukses saam met die Here,
en ander, te vier en te geniet nie.
Selfs daarin moet dit steeds die beste en mees eksotiese wees.
Sukses bly eenvoudig ‘n wortel voor die neus.
Hulle kan nie die “nou-oomblik” geniet en waardeer nie.
Hulle is altyd haastig. Die vraag in hul gedagtes bly:
Hoe kan ek méér? Wat kan ek nog?
“Even if you win the rat race, you’re still a rat”. – Lili Tomlin.
Hoewel roltrap mense dikwels baie suksesvol is in die wêreld se oë,
vergeet hulle Wie die Bron van hul sukses is.
Hulle sal teoreties sê dat die Here hul seën,
maar dit is net by wyse van spreke.
Hul verhoudinge met die mense wat die meeste saak maak,
ly dikwels onherstelbare skade.
Hul leef afwesig van hul kinders,
en hul huwelike gaan deur groot spanning, selfs egskeiding,
omdat hul selfs nie eers met hul verhoudings tevrede is nie....
Ook kosbare vriendskappe gaan tot niet.
So word die roltrap lewe ook ‘n gejaag na wind.
Hoewel daar niks verkeerd is met sukses nie,
vergeet roltrap mense die belangrikste:
Wie hulle suksesvol maak.
Deuteronomium 8:17-18:
“Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande
het vir my hierdie rykdom verwerf,
maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie.”
Waarheen is jy op pad met jou een Godgegewe lewe?
Ernest