Sonde is nie ‘n lysie nie.
Sonde is ook nie iets “algemeens” nie.
Ons praat baiekeer sommerso,
in die algemeen, met die Here oor sonde.
Maar wat het ons dan regtig daardeur bely?
Sonde het ‘n naam en moet by die naam genoem word.
Paulus noem in Galasiërs 5:19-21, byvoorbeeld,
sonde spesifiek by die naam.
Sonde is verseker nie maar iets in die algemeen nie.
Sonde kom in spesifieke dade en gesindhede tot uiting.
Daardie dade en gesindhede moet ons voor God bely,
en Hom daarvoor spesifiek om vergifnis vra.
Maar sonde is ook nie net ‘n lysie nie.
Ons kan maklik in spesifieke dinge vaskyk,
en nie besef wat sonde werklik is nie.
Paulus skryf ook in Romeine 7 oor sonde.
Hy sê hy verstaan homself nie.
Hy wil baie graag die regte dinge doen,
maar as hy hom kom kry,
het hy al weer die verkeerde dinge gedoen.
Hy wil so graag goed doen,
en kry dit dan dikwels nie gedoen nie.
Romeine 7:15: “Ek begryp self nie wat ek doen nie,
want wat ek wil doen, dit doen ek nie,
maar wat ek haat, juis dit doen ek.”
Ons het almal al daardie ervaring gehad.
Paulus sê dat daar ‘n mag in ons werk,
wat keer dat ons die regte dinge doen.
Daardie mag is Sonde met ‘n hoofletter.
Sonde is nie ‘n lysie verkeerde dade nie.
Sonde is ‘n bose mag, ‘n bose persoon. Die Bose.
Daarom kan ons nie sommerso, vanself,
‘n kind van die Here word nie.
Van sonde moet ‘n mens verlos word.
Die bose mag moet gebreek word.
Die verkeerde dinge wat ons doen,
is die simptome van die bose mag wat in ons werk.
Net soos hoes en nies die simptome is
van die verkoue-virus wat in ons werk.
Gelukkig, sê Paulus,
is daar ook ‘n simptoom van die feit dat ons gered is,
en dit is dat ons goed wíl doen!
As jy regtig goed wil doen,
en regtig meer en meer soos Jesus wil optree,
is die verkeerde dinge wat jy doen,
hoewel dit nie “sommer niks” is nie,
die laaste stuiptrekkings van die bose mag in jou.
Leef elke dag oorwinnend oor die sonde!
Ernest