Die Bose is oorwin. Die sonde is oorwin.
Maar dat die mag van die sonde nog in ons werk,
kan ons in ons dade sien, en weet ons ook van in ons gedagtes!
Maar dit beteken nié dat jy aan die mag van die sonde
uitgelewer is nie, en ‘n slagoffer daarvan is nie. Inteendeel.
Paulus sê in Kolossense 2:6-15 ons moet ons nie laat mislei nie.
Soms sê mense solank jy nog verkeerde dinge doen,
is jy nie ‘n kind van God nie.
Paulus praat so sterk daarteen dat hy dit ‘n drogredenasie noem.
In vers 8 sê hy: “Pasop dat niemand julle van Hom af wegvoer
deur teorieë en argumente wat misleidend is nie.
Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense,
op wettiese godsdienstige reëls, en nié op Christus nie.”

Mense wat só redeneer,
dat sonde beteken jy is nog nie ‘n kind van God nie,
dink dat godsdiens uit die nakoming van reëls en wette bestaan.
Maar dit is nié wat geloof en godsdiens beteken nie.
Wanneer jy weer gebore is, is jy ín Christus.
Dit beteken twee dinge, sê Paulus:
Eerstens: Die dag toe jy jou volkome aan Christus oorgegee het,
het God jou skuld in Christus afgeskryf!
Vers 14: “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons
tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker,
het Hy dit vergoed weggeneem.” Vergoed weggeneem!
Al doen ons partykeer nog verkeerde dinge,
kan skuld nooit weer tussen ons en God kom staan nie.
Tweedens: Christus het die mag van die bose gebreek!
Vers 15: “Hy het die bose magte ontwapen...”
Daarom kan die sonde en bose nooit weer oor ons heers nie!
Daarom kán ons meer en meer soos Jesus leef!

“Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het,
moet julle in verbondenheid met Hom lewe,
in Hom gewortel en op Hom gebou,
vas in die geloof soos julle geleer is,
en met dankbaarheid vervul.” Vers 6.

Leef oorwinnend oor die sonde!

Ernest