God is heilig.
En ons moet algaande al hoe meer soos die Here doen.
God het alreeds vir die Israeliete in Lev. 19:2 gesê:
“Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”
Maar wat beteken dit om heilig te wees?
Dit is beslis nie om met lang gesigte rond te loop nie.
Niks te geniet en byna nooit te lag nie. “Hoogheilig” te wees nie.

Soms sê ons “heilig” beteken om afgesonder te wees.
Daar is waarheid daarin. Maar heilig beteken ook veel meer,
naamlik “om uit te straal.”
Lees Jesaja 6 waar Jesaja vertel hoe die engele hulle gesigte
toemaak vir die lig wat van God af kom en dan sê:
“Heilig...is die Here”.
Wanneer ons in Christus leef, en die Here sê ons moet heilig wees,
beklemtoon Hy daarmee dat ons iets van Hom moet uitstraal.
Levitikus 19 maak dit al prakties. Om soos die Here te wees,
om iets van God uit te straal, beteken onder andere
om mededeelsaam te wees, regverdig en eerlik.
Om ander mense te respekteer,
en om hulle te vergewe en nie te beskinder nie.
Om heilig te wees is nie ‘n toestand nie, maar ‘n daad,
‘n aktiwiteit van om God te verteenwoordig! Genesis 1:26.

Daarom praat ons ook van heiligmaking. Wat beteken dit?
Dit beteken doodgewoon noudat jy “in Christus” leef,
noudat jy ‘n nuwe mens is, sal die liefde van God al hoe meer en meer
deur jou werk. Jy trek nie terug uit die lewe nie. Inteendeel.
Jy leef al hoe liefdevoller, vriendeliker, geduldiger, nederiger, getrouer...
Al hoe minder van die ou mens is sigbaar,
en al hoe meer van die nuwe mens word sigbaar.
Jesus sê in Matteus 5:48: “Wees julle dan volmaak,
soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Volmaak beteken hier 100% konsekwentheid in die liefde.
Teenoor God en jou naaste!

Ernest