Ons sê God weet alles of God is alwetend.
Soms maak ons mekaar onrustig hiermee
wanneer ons vir mekaar sê:
God weet ook wat jy dink en beplan.
Dan voel mense asof God heeltyd oor jou skouer
loer om te sien wat jy aan’t doen is.
Soms is die gedagte aan God se alwetendheid nog meer “lastig”.
Want as iets slegs gebeur dan sê mense: As God alwetend is,
moes Hy mos geweet het dit gaan gebeur en kon Hy dit keer.
Waarom het Hy dit nie verhoed nie?
En só hou hulle as’t ware vir God aanspreeklik oor sy alwetendheid.
Die Bybel praat eerder van God se wysheid en kennis,
as van God se “alwetendheid”. God se “alwetendheid” is nie
soos menslike “weet” aan tyd en ruimte,
waarnemings en gevolgtrekkings gebonde nie.

Maar het jy geweet dat die woord “alwetend” nêrens in die Bybel
staan nie, en dat dit ‘n woord is wat ons self uitgedink het,
en dat dit daarom ook net beeldspraak oor God is.
Wanneer ons sê God is alwetend,
sê ons God is soos iemand wat alles weet.
Dit beteken egter nie dat God maar net baie méér weet as ons nie.
Dit beteken God het ‘n ander “soort” kennis as ons,
‘n kennis wat ons nie kan verstaan of ontrafel nie,
of onder óns beheer kry nie.
Psalm 139:6 sê oor God wat “alles weet”:
“Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”
Soos Psalm 139:6 staan ons dan verbyster voor God se kennis,
en is dit te groot vir ons begrip.
Daarom kan ons nie ‘n menslike gevolgtrekking
uit dié beeld maak en sê: As God alwetend is,
dan moes Hy dit of dat gedoen het nie.
Dit sou inderdaad beteken dat óns nou meer of beter weet as God!

Maar meer nog: As die Nuwe Testament sê “...Hy weet alles”,
in 1 Johannes 3:20, is dit nie om ons onrustig of bang te maak nie,
maar juis en veral om ons te troos!
Want Johannes sê: As jou gewete jou veroordeel,
oor die verkeerde goed wat jy gedoen het, troos jou daaraan:
God weet alles! Hy is groter as jou gewete.
Hy weet van jou verkeerde dade, ja;
maar Hy weet óók dat jy Hom liefhet en vir Hom wíl leef!

Leef vrymoedig, en met oorgawe, voor die Here God wat álles weet.

Ernest