Beteken almagtig nou dat Hy alle ongeluk en swaarkry
van ons af moet weghou?
Ons manier van dink oor die almag van God,
skep dikwels vir ons meer probleme as wat ons oplossings kry.
God is nie almagtig om so op te tree soos óns dink
Hy “behoort op te tree” nie.
God is nie almagtig om ons te dien nie....
Psalm 136 gee ons ‘n aanduiding van God se almag.
Vers 2: “Loof die oppermagtige God...”
Vers 3: “Loof die magtigste...”
Vers 4: “Hy het magtige dade gedoen...”
Maar in hierdie Psalm is daar na elke vers
‘n merkwaardige keervers.
Elke keer nadat ‘n vers gesê het hoé almagtig God is,
en wat Hy gedoen het, is daar ‘n keervers wat sê:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
God se almag en sy liefde hou verband met mekaar,
want “God is liefde”.
As God, omdat Hy almagtig is, alle kwaad met een veeg
van die aarde af moes verwyder,
moes Hy alle kwaaddoeners met een veeg verwyder!
Maar God het sy skepsels lief en doen dit nie.
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Ons kan dit so verduidelik:
Dat God almagtig is, beteken dat Hy kan doen wat Hy wil doen,
en nie wat ons dink Hy behoort te doen nie.
Wat wil God doen?
Hy wil verseker red, vertroos, bemoedig, liefhê.
Selfs al is ‘n situasie hoé hulpeloos en sonder uitsig,
kan God jou daardeur dra. Rus in God se almag.
God se almag is dat Hy kán doen wat Hy wíl doen.
Sy almag is nie ‘n mag ter wille van mag nie.
Sy almag is in ooreenstemming met sy wese, dat God liefde is.
“Aan sy liefde is daar geen einde nie”.
Hoe wonderlik om God te ken, en te aanbid,
te dien en vir Hom te leef!
Ernest