God is “alwetend”, “alomteenwoordig”,
“almagtig”, “alsiende”, “drie-enig”...
Ons kan allerhande slim argumente uitdink,
oor hierdie begrippe en woorde waarmee ons
God probeer “verstaan en begryp”.
Jesus het self gesê wie Hom gesien het, het die Vader gesien.
En God is ook baie meer as wat ons kan “sien”.

Ons kan troos put uit wat ons weet en verstaan.
Ons weet aan God se liefde is daar geen einde nie!
Dit geld in al hierdie begrippe en woorde oor God.
Ons sien in Psalm 139 dat die skrywer nie bang word
oor die grootheid van God nie, maar dat dit hom laat besef dat
God hom al van voor sy geboorte ken en liefhet!
Verse 16-17: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal.”

“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
God kyk of Hy nie kan beredder nie.
God kyk of ons nie wil terugkom nie.
God kyk of Hy nie kan red en vergewe nie.
Waarom anders het Hy, volgens Johannes 1:14,
mens geword en tussen ons kom woon?
Augustinus, die kerkvader, het gesê dat ons met woorde en begrippe
oor God praat omdat ons nie kan swyg oor God nie!
Ons gebruik dit om hoegenaamd iets oor God te kan sê!
Feit is dat ons oor God kan praat, en Hom kan ken en liefhê,
deur sy genade, as ons versorgende en liefdevolle Vader,
as ons Verlosser en Here, en as ons Voorspraak en Trooster!
Vader, Seun, en Heilige Gees.

Ernest