‘n Mens se verkeerde dade kan soos sooibrand wees,
wat telkens onaangenaam na jou toe terugkom.
Soms is dit al lank nadat ons sonde gedoen het,
wat ons weer daaroor dink, en opnuut sleg voel daaroor.

Die Woord sê egter dat God Hom soos ‘n goeie vader
ontferm oor ons, en die skuld wat ons sonde op ons laai
baie ver van ons af wegneem.
Psalm 103:12-13: “So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.”

Indien ou koeie uit die sloot jou weer pla,
dink aan hoe ver die ooste van die weste af is.
So ver het God al daardie skuld van jou van jou af weggeneem.
Vers 17 beklemtoon:
“...onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien...”
1 Korintiërs 13 sê sy liefde hou nie boek van die kwaad nie!
God vergeet wat bely en verby is!
Neem God op sy woord daarvoor,
en moenie die Bose glo wat jou telkens weer wil aankla
met ou koeie uit die sloot nie!

Ons kan miskien nie help nie,
dat ons weer aan verkeerde dinge van die verlede dink nie.
Maar ons moet verseker nie meer met pyn,
en veral nie met skuldgevoelens daaraan dink nie.
Ons kan inderdaad met dankbaarheid daaraan terugdink,
omdat ons daarvan vergewe is,
en die liefde van God in daardie vergifnis intens ervaar.
In sy “boek” is geen skuld opgeteken nie,
maar wel die kwitansie waarvan ons in Kolossense 2:14 lees:
“Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.
Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vergoed weggeneem.”

Lééf uit die vergiffenis van die Here!

Ernest