Filippense 1:9:
“Ek bid dat julle liefde sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.”

Die liefde van die Here doen, ook deur ons,
wonders in mense se lewens.
Die Here het ons geroep en aangestel om sy liefde hier uit te leef.
Ons versprei die liefde van die Here soos ‘n aangename geur.
Daarom moet ons sensitief wees vir ander mense se omstandighede,
behoeftes en nood.
Daarom mag ons ook nooit ander mense afskryf nie.
Ons moet deurgaans so optree dat ons God toelaat om, deur ons,
op sy unieke manier met alle mense te werk.

God werk inderdaad uniek met elke mens.
Hy werk anders in ander as wat Hy in jou gewerk het.
Hy het elke mens uniek geskep en werk ook so met elke mens.
Wees geduldig met alle mense, en onthou, die werk van die
Heilige Gees standaardiseer nie mense nie,
veral nie om “soos ek” te wees nie,
maar stel die unieke Goddelike potensiaal in elke mens vry.
Om toe te neem in begrip en fyn aanvoeling,
is om te besef ons is almal na die beeld van God geskep.
Let op die woord “toeneem” in bogenoemde vers 9.
Ons liefde moet toeneem, deurgaans meer word, groei.
En dit veral in begrip en fyn aanvoeling.

Liefde het begrip nodig.
‘n Diep insig in God se verlossingsplan,
anders is dit ywer vir God, sonder insig.
Volgens Romeine 10:2 kan ons vol ywer wees vir God,
maar sonder die regte insig.
Begrip vergroot die liefde tot God en jou medemens.
Liefde het ook fyn aanvoeling nodig.
Dit is die vermoë om in elke situasie skerp te onderskei,
tussen goed en sleg, belangrik en onbelangrik.
Liefde sonder hierdie aanvoeling doen dikwels meer skade as goed.
Groot ywer, en entoesiasme, en goeie bedoelinge, is nie genoeg nie.
Dit moet met hierdie fyn aanvoeling aangevul word.

Daarom bid Paulus vir die Filippense daarvoor!
Kom ons bid ook opreg daarvoor, vir mekaar, en vir onsself.
Ons het dit só nodig....

Ernest