Paulus bid in Filippense 1:9 dat hulle liefde sal toeneem,
in begrip en fyn aanvoeling. Hoekom?
Vers 10: “...sodat julle die dinge sal kan onderskei
waarop dit werklik aankom.
Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom,
onberispelik en sonder blaam wees. ”
Vers 11 gaan dan nog verder:
“...en deur Jesus Christus sal julle geheel en al
in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”
Wanneer liefde aangevul word met begrip en fyn aanvoeling,
bring dit, volgens vers 10, onderskeidingsvermoë.
En dit het op sy beurt iets wonderliks tot gevolg:
Dan wys ons lewe dat ons die verwagting het om
onberispelik en sonder blaam te wees by die
terugkeer van Jesus Christus. Vers 11.
Die wederkoms het ‘n bepalende effek op elke kind van die Here.
Omdat Jesus terugkom,
leef ons elke oomblik asof ons alles vir Hom doen.
Lewe, werk, studie, familie, ander verhoudings, sport, alles!
Kolossense 3:23 se daarom ook: “Wat julle ook al doen,
doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”
Die wederkoms fokus jou met entoesiasme en vooruitsig.
Hoe ‘n lewende wederkoms verwagting het jy?
Karl Barth was bekend daarvoor,
dat hy met ‘n lewende wederkoms verwagting geleef het.
Toe hy by ‘n vriend in die Alpe gekuier het,
het hy by sy huis uitgekyk en gesê:
“Dit is so mooi hier, daar is nie plek vir die wederkoms nie.”
Sy vriend het hom gevra wat hom aan die wederkoms laat dink,
waarop hy geantwoord het dat hy altyd daaraan dink.
Neem toe in begrip en fyn aanvoeling,
sodat jy die dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom,
en voluit vir die Here kan leef, tot sy lof en eer,
in jou lewende vooruitsig op Jesus wat weer kom!
Ernest