Baie mense dink dit is onwaarskynlik dat die Here
húlle wil gebruik vir sy groot werk.
Maar tog kom Jesus in Handelinge 1:8 en sê:
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees
oor julle kom, en julle sal my getuies wees...”
Die eerste en belangrikste is dat die Here self vir jou krag
sal gee vir dit wat Hy wil hê jy moet doen.
Hy rus jou toe vir dit waarvoor Hy jou roep en stuur.
Maar, stuur Hy nou net beter en belangriker mense as jý?
Daar is nie beter en belangriker mense as jy nie.
Almal is vir God kosbaar en alle kinders van God word gestuur!
Kyk maar net na die dissipel kring.
Gewone mense, soos die mees doodgewone mense!
Húlle moet die boodskap van God se liefde en vergiffenis
die wêreld indra. Kyk hoe lyk hulle. Hulle lyk nes ons:
Johannes en Jakobus wat die bynaam gehad het van
die “manne van die donder”, Markus 3:17.
Moeilike mense met ‘n ma wat hulle druk om te presteer.
Sy het selfs vir Jesus gevra dat háár twee seuns eendag in sy koninkryk
aan sy regterkant en linkerkant moet sit, Matteus 20:20-23.
En so het die res van die dissipels ook maar onder mekaar loop en stry oor
wie van hulle nou eintlik die vernaamste dissipel van Jesus is, Lukas 9:46.
Wanneer die soldate Jesus gevange neem hardloop al die dissipels weg.
Petrus sweer voor ‘n diensmeisie dat Hy Jesus nooit geken het nie.
Die dissipels glo nie die vroue toe hul kom vertel dat Jesus opgestaan het nie.
Hulle was so bang dat hulle agter slot en grendel gaan wegkruip het.
Maar Jesus stuur húlle. Mense soos ons, mét ons foute.
Net soos hulle, word ons gestuur om Jesus se boodskap uit te dra.
Ons word óók toegerus, om God se boodskap van liefde en vergiffenis uit te dra.
Júlle sal my getuies wees. Ons is ook Christus se getuies, sy dissipels.
Gaan! En onthou die woorde van die Here:
“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle...”
Ernest