Lukas 4:28-29 vertel hoe die mense in die sinagoge
op Jesus se woorde gereageer het.
Hulle het opgespring en Hom uit die dorp uit gejaag.
Jesus het nie vir mense gesê wat hulle graag wou hoor nie.
Hy het volhard om vir hulle te sê wat hulle moes hoor.
Sy woorde het soos ‘n mes deur hulle geestelike hardkoppigheid
gesny en deur hulle hoogmoed gedring.
Dit het mense verskillend laat reageer.
Baie het die uitdaging van sy woorde aanvaar,
en hul lewe gegee vir sy roeping.
Hulle het die prys vir dissipelskap betaal,
alles opgeoffer en Hom gevolg.
Ander het in opstand gekom omdat Hy hulle ontbloot het,
ten opsigte van hulle sonde en eiebelang.
Hulle kon dit nie verwerk dat Hy hulle so goed ken,
en dwarsdeur hulle kyk nie. Psalm 139:1 herinner ons:
“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.”
Christus se woorde het vandag nog dieselfde deurdringende krag.
Vandag nog neem mense dit aan, of verwerp dit.
Daar is mense wat met blymoedigheid reageer,
en hul lewe op ‘n nuwe pad laat plaas.
Daar is mense wat eenvoudig apaties en passief daarop reageer.
Daar is ook mense wat doelbewus die woorde van Jesus verwerp.
Daar is ook mense wat Jesus se woorde tydelik en behendig wil systap.
“Die tyd is nie nou geleë nie.” “Ek kan nie waar ek tans werk nie...”
“Nie met die vriende wat ek op die oomblik het nie...”
“Nie nou terwyl ek so jonk is en nog wil speel nie.”
Christus praat uiteindelik met jou hart, en nie met jou verstand nie.
Daarom dat Filippense 4:7 ook sê die vrede wat Hy jou gee,
gaan alle verstand te bowe.
Hoe reageer jy op die woorde van die Here Jesus?
Wanneer Hy dit deur die Heilige Gees aan jou vra,
kan jy ook nie jouself bluf met die antwoord nie....
Hy wat nie die Here se woorde aanvaar nie,
en sê dat Hy nie die Here is nie,
en Hy wat leef asof Hy nie die Here is nie,
glo uiteindelik dieselfde,
en reageer uiteindelik dieselfde op sy woorde.
Ernest