Klink na ‘n snaakse vraag. “Dit werk mos...”
Kyk ons na ons land se situasie,
en baie Christene se oplossings daarvoor,
dan wonder jy of Christene regtig glo dat
onvoorwaardelike liefde die oplossing is.
Gedurige botsings tussen mense, haat spraak,
veroordeling, vooroordeel,...
en die lys kan net langer en langer.
Die probleem is dat hierdie dinge en gesindhede
in so baie gesprekke van Christene plaasvind.
Dit skep net nog meer wantroue en verdeeldheid tussen mense.
God se opdrag vir ons as Christene teenoor die wêreld
is tog ondubbelsinnig:
Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself.
Daar is geen opdrag van God wat belangriker is as dit nie.
Jesus self het dit beklemtoon.
Ons stel dit egter ter syde as onprakties, idealisties, en simplisties.
Glo ons regtig in God se opdrag,
en leef ons dit regtig radikaal uit ten spyte van...?
Ons aanvaar hierdie waarheid,
maar pas dit eenvoudig nie toe in die praktyk nie,
omdat dit groot geloof, moed en ware opoffering vir die Here vereis.
Ons grootste enkele bydrae moet eenvoudig dit wees:
Om die Evangelie van God se liefde, in Christus,
deur die Heilige Gees uit te leef. Oral. Altyd.
Liefde is nie hier ‘n emosionele en sentimentele
benadering tot die probleme en die wêreld nie.
Om waarlik lief te hê is om te kies, vir God te kies,
en dan onvoorwaardelik gehoorsaam te wees aan God,
om sy liefde uit te leef waar jy ook al leef!
Daar druk jy God se stempel af,
en daar verteenwoordig jy God in elke lewens situasie!
Laat God se opdrag en sy liefde waarlik jou inspirasie wees,
om voluit te leef in hierdie stukkende wêreld.
Besef dit is God se offensief in die wêreld,
waar die Bose reeds oorwin is,
en proklameer met jou lewe sy koninkryk,
oral waar jy leef!
Wees eerstehands ‘n medewerker van God,
en bring genesing, herstel en nuwe lewe.
Sien jy kans daarvoor?
Dit is waartoe God self jou roep!
Wie anders wil jy hierin dien?!
“En nou: Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde.” 1 Kor. 13:13.
Ernest