Wanneer ons bid, gesamentlik, of indiwidueel,
gaan dit nie oor hoogdrawende en welsprekende taal nie.
Baie mense vereenselwig hulle daarmee en praat van “mooi” gebede.
Ons moet eerder gerig wees op opregte gebede.
Gebede hoef nie lank te wees nie. Of ingewikkeld nie.
En die taal daarvan hoef nie formeel suiwer te wees nie.
Gebed moet kom uit ‘n opregte hart wat verwoord word in opregte taal.
Gebede moet opreg, eerlik, nederig en eenvoudig wees.
N. P. Van Wyk Louw praat van die “eerlikheid van sterfbedwoorde”.
Dink maar aan die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar.
Jesus sê in Matteus 6:7 oor gebed:
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van
woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word
omdat hulle baie woorde gebruik.”
Jesus beklemtoon eenvoudige en opregte gebed.
En gebed in die binnekamer,
en gesamentlike gebed en aanbidding is ewe belangrik.
Wanneer jy bid, praat met God in eenvoudige alledaagse woorde,
soos jy daagliks saam met Hom lewe.
Deel jou vreugdes, onsekerhede, bekommernisse,
deel alles met die Here in vrymoedigheid.
Alles? Ja, jy kan oor alles met die Here praat.
Hy ken immers jou hele lewe. Filippense 4:6 beklemtoon dit:
“Moet oor niks besorgd wees nie,
maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking,
en met danksegging aan God bekend.”
Die Here hoor en verhoor jou.
Hy het daarvoor aan jou sy Woord gegee!
Ernest