Kolossense 3 praat daarvan dat jy jou ou self
moet kruisig en begrawe, weer ‘n keer gebore word,
en as ‘n nuwe mens lewe.
Maar moenie moedeloos word as jy die ou mens
nie in een dag doodkry nie.
Paulus praat van “al hoe meer vernuwe word”.
Dit gaan oor ‘n proses wat jou lewe lank voortduur.
Ons praat ook van voortgaande bekering.
Dit is ‘n voortdurende stryd om die ou mens
begrawe te kry want hy bly sy kop optel.
Om Jesus te volg beteken om die res van jou lewe
‘n stryd te voer teen jou natuurlike neigings en drange
en self gerigtheid.
Iemand het gesê die ou mens bly by hom spook.
Hou hieraan vas:
Die dag toe jy besluit het om Jesus te volg,
het God jou opnuut die mens gemaak
wat Hy bedoel jy moet wees.
Hy het ook aan jou alles gegee om te groei,
en die gesindheid van Jesus te ontwikkel.
Hoe langer jy Jesus volg,
hoe minder moet jy na die ou mens lyk,
en al hoe meer moet jy die nuwe mens vertoon,
na die beeld van die Here.
Dit is geestelike groei!
Alle volgelinge van Christus wat so saam groei,
word die uitverkore volk van God genoem.
Iemand wat uitverkies is, is nie beter as ander mense nie.
Maar hulle wat uitverkies is en die uitverkore volk vorm,
is geroep en gekies om iets spesiaals vir die Here
in hierdie wêreld te doen.
Ons moet ander mense met die evangelie bereik,
en hulle na Christus lei met woord en lewe.
Ons word God se spieël,
wat God as’t ware na die wêreld weerkaats.
Is dit waar van jou lewe?
Ernest