Kolossense 3:12:
“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet.
Daarom moet julle meelewend.....wees.”

Die Bybel maak ‘n verskil tussen jou verstand waarmee jy dink,
en jou ander dele van jou liggaam waarmee jy aanvoel.
Ons sê byvoorbeeld ons is hartseer as ons sê hoe ons voel.
Maar ons weet dit is ‘n verstandelike aksie.
Die Bybel praat van jou hart as die plek van gevoel en aanvoeling.
Soms praat die Bybel ook van jou niere
as die plek waar gevoel vandaan kom.
Dit wil sê dat daar dinge is wat jy nie met jou kop of
met jou verstand uitwerk en beplan nie,
dinge wat jy net wéét, aanvoel.

Jy raak byvoorbeeld verlief,
sonder dat jy kan sê presies waarom dit gebeur het.
Sonder dat jy doelbewus besluit het om verlief te raak.
Jy kry dikwels mense jammer,
sonder dat jy daaroor dink en besluit om hulle jammer te kry.
En nadat jy hulle jammer kry,
besluit jy doelbewus wat jy daaraan gaan doen. Verstandelik.

Jou binneste is as’t ware iets wat spontaan aan die gang kom,
en wat dinge sommer net “voel” of “aanvoel”.
Die uitdrukking wat die Bybel hier met “meelewend” vertaal,
sê letterlik in die Grieks dat God se mense
“binnegoed van medelye” moet hê.
Jou binneste, jou “hart” en jou “niere”,
moet as’t ware van medelye “gemaak” wees.
So sal jy ander mense sommer vanself jammer kry,
of vreugde saam met hulle ervaar en saam bly wees,
en só meelewend wees!
Dit gebeur sonder dat jy daaroor besluit,
en sonder dat jy eers jou eie posisie oorweeg.
Dit gebeur spontaan!
Dit is soos die vrug van die Heilige Gees!

Wees inderdaad meelewend!

Ernest