Kolossense 3:12:
“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het.
Daarom moet julle meelewend, goedgesind....wees.”

Wat beteken goedgesind?
Ons hoor partykeer dat mense hul taal meng en sê:
“Daardie is regtig ‘n baie “generous” ou.”
‘n “Generous” mens, volgens die woordeboek,
is grootmoedig, edelmoedig, gul,
offervaardig en warm van persoonlikheid.
Dit is iemand by wie jy sommer tuis en gemaklik voel.
Nuwe mense, kinders van God,
moet mense wees by wie ander mense só voel.
Mense moet kan aanvoel dat ons opreg is,
en dat hulle by ons maar hulle hart kan oopmaak.
Hulle moet kan aanvoel dat ons opreg bedoel
en nie met stories rondloop nie.

Jesus moes so ‘n warm mens gewees het.
Ons merk dit op as ons so in die Evangelies
rondblaai en oor Hom lees.
So baie verskillende mense van verskillende omgewings
het hulle harte voor Hom oopgemaak.
Van die geleerde Nikodemus tot die straatvrou Magdalena.
En baie belangrik, hulle is almal as veranderde mense
van Hom af weg.
Niemand se lewe het maar dieselfde gebly
nadat hulle met Jesus gepraat het nie.
Hulle kon beter met hulle self en hul verlede saamleef,
en met meer hoop en visie vir die toekoms.

Mag ons waarlik daarin groei,
om so ‘n “tuiste” vir mense te wees.
Dat hulle by ons ervaar dat ons grootmoedig is,
dat ons regtig moed het, en ook dat ons edelmoedig is,
offervaardig deur onsself te gee,
en dat hulle by ons warmte beleef.
Sal jy hierin groei, soos die nuwe mens wat jy is?

Ernest