Kolossense 3:12:
“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het.
Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig,...wees.”

Nederigheid is nie om mense se vloerlap te wees nie.
Dit beteken ook nie almal kan jou rondstoot soos hulle wil nie.
Hoewel die twee woorde “nederig” en “platgetrap”
in die Griekse taal verwant is aan mekaar,
is daar ook ‘n groot verskil.

Nederigheid kan ferm wees,
sonder om arrogant of voor op die wa te wees.
Dit kan beslis wees sonder om aanstootlik te wees.
Jy kan sê wat jou oortuiging is, sonder om dominerend te wees.
Jy kan dien sonder om verwagtinge te hê om geprys te word.

Om nederig te wees is om nié ander mense se regters te wees nie.
Ons is nie God se regters of advokate nie.
Ons is God se getuies en sê met liefde wat reg is, sonder om te skroom.
Nederige mense is warm mense wat kan sê en doen wat reg is,
sonder om ander mense af te stoot,
of hul oortuiging op ander mense af te dwing.
Nederige mense kan ander mense “hoor”, sonder om saam te stem.
Ons kan steeds anders dink en met oortuiging God se wil doen.

Ons kan daarom nie maak of ons nederig is nie.
Nederigheid is vrug van die Heilige Gees, Galasiërs 5:23.
Augustinus van Hippo het gesê:
“As julle my vra wat die eerste kenmerk van opregte geloof is,
sal ek sê die eerste, tweede én derde ding is nederigheid.”
Nuwe mense in die Here is nederig.

Ernest