Leef as nuwe mens verdraagsaam

Kolossense 3:12:
“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het.
Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig,
en verdraagsaam wees.”

Wat beteken verdraagsaam?
Dit word dikwels vertaal met “groothartig”.
Dit het ‘n dubbele betekenis van, aan die een kant,
verdraagsaamheid en ruimhartigheid, en aan die ander kant,
moedigheid of uithouvermoë.

Wanneer jy ‘n ruim hart het kan enige mens by jou tuis voel.
Jy loop nie links en regs en veroordeel nie.
Jy probeer ander mense verstaan en help.
Jy besef dat elke mens ‘n stukkie geskiedenis met hom saamdra,
en dat jy nie sy seer en worsteling ken nie.

Dink aan die barmhartige Samaritaan gelykenis waarmee Jesus
dit ook verduidelik het.
Hoewel hy ‘n Samaritaan was, help hy ‘n gewonde Jood.
Hulle het mekaar in die samelewing soos siekte vermy.
Tog laat hy nie dit tussen hom en die gewonde Jood kom nie.

Verdraagsaamheid se tweede betekenis van moedigheid
en uithouvermoë vra van ons om deurgaans so te wees.
Selfs al kry jy stank vir dank, bly verdraagsaam.
Wanneer jy nie sukses sien nie, en weer en weer help,
is jy regtig verdraagsaam.
Dit moet deel van jou menswees word.
Ons is baie maklik ongeduldig met mekaar.

Leef as nuwe mens in die Here met verdraagsaamheid....

Ernest