Paulus gaan nou voort in Kolossense 3:13 om aan te sluit
by die begrip van verdraagsaamheid in vers 12. Hy sê:
“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar
as die een iets teen die ander het.
Soos die Here julle vergewe het,
moet julle mekaar ook vergewe.”
Dit is die eerste keer wat hy nou in hierdie gedeelte
ons nuwe lewe met God vergelyk.
“Soos die Here julle vergewe het...”

Om, soos vers 12 sê, meelewend, goedgesind, nederig,
sagmoedig en verdraagsaam te wees,
en dit in die Here uit te leef, het ‘n belangrike doel.
En daardie doel is om soos God te kan vergewe.
Hoekom kan God so vergewe?
As ons kyk na wat God gedoen het toe Hy toegelaat het
dat Jesus gekruisig word, om vir ons te wys hoe lief Hy ons het
en vir ons omgee, dan moet ons sê dat God inderdaad
“binnegoed van medelye” het,
soos “meelewend” letterlik in die Grieks beteken.

God het in sy wese medelye met ons!
Ten spyte van watter sonde ook al,
kan enige mens sy hart voor God oopmaak.
God het so lief en gee soveel om dat geen sonde
groter is as sy vergifnis en genade nie.
God wil vergewe. God het medelye.
Daarom kan enige mens met sy sonde in opregtheid
na God gaan vir belydenis en vergifnis. 1 Johannes 1:9.

Mense moet weet dat ons vergewe. Soos God vergewe.
En ons moet dit doen.
Mense moet weet en dit in ons lewens sien
dat hulle hul harte by ons kan oopmaak.
Hulle moet weet ons het medelye en leef mee met hulle.
Hulle moet ook weet ons praat met die Here daaroor,
en nie ongevoelig en met skinder tonge met ander mense nie.

God sê as ons skuld voor Hom bely,
vergewe Hy ons en dink nooit weer daaraan nie.
Wat doen ons as mense skuld voor ons bely?
Om iemand te verstaan is menslik.
Maar om werklik te kan vergewe is Goddelik,
en Hy gee dit vir ons deur sy Gees,
sodat ons dit kan en moet doen.

As nuwe mens moet jy vergewe soos God vergewe.

Ernest