Kolossense 3:14:
“Bo dit alles moet julle mekaar liefhê.
Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”
Vir nuwe mense in die Here is die liefde bo alles!
Daarom beklemtoon Paulus dit ook hier.
Alles wat hy sê oor die nuwe lewe in die Here,
word saamgevat met die liefde.
Paulus sê as jy nou meelewendheid, goedgesindheid,
nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid,
vergewensgesindheid, en geduld in een pakkie moet saambind,
dan doen jy dit met die liefde.
“Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”
Wat beteken liefhê?
Probeer dit nou op ‘n klein stukkie papier neerskryf.
Jy gaan dit waarskynlik nie kan doen nie.
Ons weet wat liefde is, en tog kan ons dit so moeilik
in een of twee sinne beskryf.
Paulus het in 1 Korintiërs 13 probeer om te sê wat dit ís,
maar toe die meeste van die tyd gesê wat dit nié is nie!
Kyk maar self, deur dit te lees...
Nou weet ons wat dit is om iemand regtig lief te hê.
Ons moet daardie “weet” gebruik om ook ons medemens lief te hê.
Dit sal meebring dat meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid,
sagmoedigheid, verdraagsaamheid, vergewensgesindheid,
en geduld uitgeleef kan word deur jou, as nuwe mens in die Here.
Die liefde is die band wat dit tot volmaakte eenheid saambind.
Nuwe mense in die Here, is vry gemaakte mense!
Hieroor sê Dietrich Bonhoeffer:
“Die mens wat liefhet omdat hy deur God se genade vrygemaak is,
en daarom ander met genade liefhet,
is die mees rewolusionêre mens op aarde.”
Ernest