Galasiërs 5:6:
“Al wat van belang is,
is geloof wat deur liefde tot dade oorgaan”.
Ons kan in God glo volgens ‘n volledige stel dogmatiese
leerstellings, en tóg geen persoonlike geloof hê
wat ‘n werklike verskil maak in jou lewe,
of die lewe van ander mense nie.
Mense is dikwels besig met teologiese spekulasie,
wat in hulle praktiese lewe geen kant of wal raak nie.
Daar is ook mense wat die Bybel “van hoek tot kant ken”,
en tog nie in ‘n persoonlike verhouding leef
met die Here van die Woord nie.
Hulle kennis loop nie oor na dade van liefde nie.
Dit is onvrugbare en nuttelose geloof.
Paulus beklemtoon baie duidelik:
“Al wat van belang is,
is geloof wat deur liefde tot dade oorgaan.”
Geloof moet lei tot ‘n dieper ervaring in jou verhouding
met die Here en daarom bly groei in Hom,
wat die Bron van liefde is.
Ware geloof kan nie anders nie,
as om deur liefde oor te gaan tot dade.
Die Woord is hieroor baie duidelik in Jakobus 2:14:
“Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo,
maar sy dade bevestig dit nie.”
Om die Here só lief te hê dat sy teenwoordigheid ‘n lewende
werklikheid in my lewe word, is so ‘n besieling vir my geloof,
dat ek deur sy liefde gedring word om sy wil te gaan doen!
Ek kan nie anders nie, want ek het die Here so lief!
‘n Vaste geloof en vertroue in die Here vir my hele lewe,
is die basis van alle suiwer Christelike dogma.
Geloof is alleen lewend en betekenisvol as dit deur die liefde
gedra word en daardeur sigbare gestalte kry.
Wanneer jou geloof uitdrukking vind in die liefde van die Here,
is jou godsdiens ‘n alledaagse praktiese werklikheid.
Geloof is ‘n werkwoord, en nie ‘n toestand nie.
Geloof is nie spekulasie en vroom woorde nie.
Ware geloof in die Here is liefde in werksklere!
Dit laat jou wegkyk van jouself. Dit laat jou ander raaksien,
meer en meer, en dit laat jou besef jy leef dit vir die Here:
“Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van
die geringstes van hierdie broers van My gedoen het,
het julle dit aan My gedoen” – Matteus 25:40.
Ernest