Dissipelskap is nie goedkoop nie. Dit vra nie iets nie, maar alles!
In Christelike kringe word dikwels klem geplaas op die
besondere gawes wat die Here aan ons skenk.
Ons ontvang vreugde, krag, geloof, ewewig, vrede,
liefde en baie ander gawes en voorregte.
In gemeenskap met die Here is dit ook so dat ons geestelike,
morele en selfs fisiese hoogtepunte ervaar. Dit kan nie anders nie!
Wanneer Christus Homself aan iemand gee,
en Hy met dankbaarheid en liefde ontvang word,
word daardie lewe onherroeplik en radikaal verander!
As kinders van die Here kan ons daarvan getuig.

Wat dikwels misgekyk word in die euforie van oorgawe
en verandering wat plaasvind, is die koste van dissipelskap.
Ware Christenskap is nie net maanskyn en rose nie,
en verseker ook nie goedkoop nie.
Dit is nie maklik nie, want jy moet die koers van jou hele lewe
verander en dit onder leiding van die Heilige Gees plaas.

Dit is onmoontlik om die heerskappy van Christus te aanvaar
en selfsugtig voort te leef in eie belang.
Jy gee jouself nou totaal oor aan die Here,
om in sy diens gebruik te word volgens sy wil.
Die prys van so ‘n oorgawe vra jou hele lewe.
Mense is dikwels nie bereid daartoe nie.
Hulle begin godsdiens bedryf,
in plaas van om vir die Here te leef!
Hulle plaas weer hul eie wil bo die wil van die Here.

Is jy besig met godsdiens,
of om die Here te dien en vir Hom te leef?
“As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën,
sy kruis opneem en My volg...” – Matteus 16:24.

Charles Caleb Colson het gesê:
“Mense sal met hulle godsdiens spook, daaroor debatteer,
daaroor skryf, selfs daarvoor oorlog toe gaan – ja, enige iets doen,
behalwe om daarvolgens te leef.”
Ware dissipelskap word geleef....dit is duur.

Ernest