Wat sou die belangrikste vraag vandag wees?
Daar sal verseker baie uiteenlopende vrae wees soos:
Wat gaan ons doen aan al die besoedeling?
Hoe gaan ons die steeds stygende lewenskoste hanteer?
Hoe gaan ons ouderdom sinvol kan hanteer?
Wat gaan word van ons gesondheid?
Hoe gaan ons die jeug in die regte rigting begelei?
Byna soveel vrae as soveel mense....
Almal belangrike vrae.

Maar die kardinale vraag van die lewe is die Pilatus vraag:
“Wat moet ek doen met Jesus wat Christus genoem word?”
– Matteus 27:22.
Die regte antwoord beteken dat jy alles wen vir tyd en vir ewigheid.
Die verkeerde antwoord beteken dat jy alles verloor, vir altyd.

Die wat kies om Jesus te ignoreer kan, soos Pilatus,
grootdoenerig wees, hulle hande in onskuld was,
en teatraal aankondig dat hulle met die hele spulletjie
niks te doen het nie. Dit gaan hulle nie aan nie.
So maklik raak mens egter nie van die Here Jesus ontslae nie.
Jou eindbestemming is onlosmaaklik aan Hom gekoppel,
of jy dit wil weet of nie.

Mense kies ook om Christus te opponeer.
Hulle skree hulle keel hees oor die onsin van geloof in Hom.
Soos in die tyd van Pilatus: “Weg met Hom! Kruisig Hom!”
Hulle wil Christus uit hul eie bestaan,
en uit ander mense se bestaan probeer weg skree.
Dit is self vernietigend, en eindig in die dood.....

Daar is ook hulle wat Hom aanneem.
Hulle neem Hom aan as Verlosser en dien Hom,
met hulle hele lewe, as Here. Hy heers oor hulle lewe.
Bevry van sonde en die dood, ontvang hulle die ewige lewe.
Vreugde, vrede en dankbaarheid word vir hulle ‘n werklikheid.
Hulle leef in Christus met eindelose hoop en ‘n ewige toekoms.

Die wat teen Christus kies, se lewe sonder Christus,
is ‘n eindelose einde....
Wat is jou antwoord op die belangrikste vraag van die lewe?

Ernest