Doelbewus in God se teenwoordigheid.
Dit is hoe ons moet lewe.
Doelbewus in God se teenwoordigheid.
Ons moet hierdie credo elke dag,
van dag tot dag, prakties uitleef.
Word daarmee wakker. Oordink dit.
Staan daarmee op. Dankbaar. Wees bewus daarvan.
Gaan daarmee uit, die dag in. Alles tegemoet.
In God se teenwoordigheid, saam met Hom!
Psalm 18:30 dra jou:
“Met U hulp loop ek ‘n oormag storm,
met my God by my is geen stadsmuur te hoog nie.”

Vertrou op God vir hierdie dag. En elke dag.
Laat dit jou gedagtes beheer.
Smoor elke gedagte van bekommernis in die kiem.
Vertrou die Here met jou hele lewe en lê dit by sy voete neer.
Waak daarteen om te kritiseer, te veroordeel,
te haat, te spot of jaloers te wees.
Onthou dat sulke gedrag en denke jóú meer benadeel,
as die persoon of voorwerp van jou gevoelens.

Leef bewustelik in God se teenwoordigheid.
Dink in sy teenwoordigheid, praat in sy teenwoordigheid,
en tree op in sy teenwoordigheid.
Onthou dat jy deurlopend in Hom leef, beweeg en bestaan.
Onthou dat Hy deur sy Gees in jou woon!
Ontdek sy teenwoordigheid in jou, ja, in jou,
en leef uit hierdie gewaarwording.
Laat die Gees in jou werk, en deur jou werk,
en erken die almag van God,
in alles wat jy aanpak, of wat oor jou pad kom.

Te goed om waar te wees?
Neem God op sy woord hiervoor!

Ernest