Psalm 55:7 en 23 praat van wegvlug, of vas staan en vertrou:
“Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het,
sou ek wegvlug en ‘n woonplek soek....
Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg...”
Daar is hoofsaaklik twee maniere om jou probleme te hanteer.
Die “wegvlug metode”, waarin jy jou probleme ontduik,
en daarvan probeer wegvlug.
En dan is daar die “staan vas en vertrou die Here” metode.
Daarmee hanteer ons probleme in die Naam van die Here,
en oorwin hulle in die krag van die Here.
Jona het begin met die wegvlug metode. Hy hardloop weg.
God stuur hom na Ninevé, maar hy vlug in die teenoorgestelde rigting.
Hy het nie van die mense van Ninevé en die opdrag gehou nie en hardloop weg.
Hy koop by Joppe ‘n skeepskaartjie wat hom na Tarsus sou neem.
Maar daar is geen plek op aarde waar jy van al jou probleme kan wegvlug nie.
So ‘n plek is ‘n lugspieëling. En boonop probeer hy weghardloop
van die taak en verantwoordelikheid wat God hom gee.
Hy sou Tarsus nooit bereik nie, want God sit hom agterna met ‘n vis!
In plaas van dat hy sy probleme oplos, het Jona dit net vermenigvuldig.
‘n Mens ontvlug nooit jouself, jou verantwoordelikhede, of jou probleme nie.
Jona ontdek dit en kies die “staan vas en vertrou die Here” metode.
Jona kies uiteindelik die pad van verantwoordelikheid.
In die krag van God en in die Naam van God gaan voer hy die opdrag uit.
En hy verrig wonderwerke in God se Naam en krag.
Elke situasie waarin ons kan kom,
met elke probleem wat daaraan verbonde mag wees,
stel ons voor ‘n keuse hoe ons dit gaan hanteer.
In eie krag, of in God se Naam en krag.
En as kind van die Here, verteenwoordig jy Hom in hoe jy dit gaan hanteer.
Ons roeping in die lewe is nie iets vaag en wollerig,
waarop ons nie ons vinger kan lê nie.
Ons roeping is om God te verteenwoordig in alles wat ons dink, sê en doen.
En ons kan dit verseker doen met die “staan vas en vertrou die Here” metode.
Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Ernest