Miljoene mense wat oor die hele aarde versprei is,
getuig van hulle liefde vir die Here Jesus Christus.
Hulle verskil in nasionaliteit, kultuur en tradisie.
En tog getuig hulle, oor die hele spektrum heen,
van hulle liefde en trou aan die Here Jesus,
wat meer as 2000 jaar gelede gekruisig is.
Hulle glo met oortuiging dat Hy uit die dood opgestaan het,
en aan die regterhand van God sit, dat Hy heers, en weer kom!
Hoe is dit moontlik?
Hulle het Hom nooit gesien nie.
Sy aardse bediening het maar drie jaar geduur.
En die verslaggewing daarvan is nie volledig nie,
maar fragmentaries, uit Bybelse en buite Bybelse bronne.
Boonop het Hy begin met ‘n gewone span van gewone mense,
mense soos ons... met al hulle foute en tekortkominge.

Hier is die antwoord:
Die geheim van die Here Jesus se aantrekkingskrag lê nie in
een of ander teologiese formule, of godsdienstige organisasie nie,
hoe belangrik hierdie dinge ook al in hulle verband mag wees.
Die geheim lê daarin dat die Here Jesus sy Gees geskenk het,
om mense tot geloof in Hom te oortuig, dat hulle Hom aanneem,
en sy heerskappy bely.

Deur die eeue heen het Hy sy beloftes gestand gedoen.
Hy het belowe dat sy Gees in almal sou woon wat Hom liefhet en dien.
Deur die eeue heen het mense dit as werklikheid beleef.
Miljoene volgelinge glo ook vandag nog dat hierdie ervaring
met die lewende Christus vir ons tyd waar en geldig is.
Die Heilige Gees oortuig en lei mense vandag nog in die Here.
En die Heilige Gees sal dit doen tot Hy weer kom!
Net die Heilige Gees kan jou ook van hierdie waarheid oortuig.

Indien jy nog op die kantlyn staan of op die pawiljoen sit,
kan jy vandag weet dat Christus jou lewe wil omskep.
‘n Nuwe ongekende krag sal jou lewe in besit neem.
Hierdie nuwe lewens veranderende krag is die Persoon van
die Heilige Gees, wat jou sal oortuig van Christus se
teenwoordigheid in jou lewe, en die nuwe lewe in jou.
Wanneer die Gees van Christus van jou besit neem,
sal jy die realiteit van sy wonderlike teenwoordigheid
as ‘n werklikheid ervaar, en ken, en uitleef.
‘n Liefde vir Hom sal uit jou hart en lewe uitbreek,
en die wêreld in en om jou verander!

“...die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons hart
uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het?”
Romeine 5:5.

Ernest