Vir die Prediker is die lewe daar om geniet te word.
Prediker het veral vier wenke vir die lewe:
Eet elke maaltyd asof dit ‘n feesmaal is.
Vier elke dag as ‘n feesdag in jou lewe.
Leef jou verhoudings so dat dit hemel op aarde is.
Werk en leef asof jy alles vir die Here doen.
Eddie Rickenbacher het gesê:
Anyone can die, but live, that is the challenge.”
Prediker 2:24:
“Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink,
en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie.
Ek het ingesien dat dit ‘n gawe uit die hand van God is.”
‘n Dogtertjie wat die eerste keer trein gery het,
was oor alles baie opgewonde.
Haar ma het vir die geïrriteerde medepassasiers gesê:
“Verskoon haar tog, sy dink nog die lewe is wonderlik.”
Dit is hoe ons kan begin dink en leef...selfs teenoor kinders.
Baie keer word dans as ‘n beeld gebruik,
om verwonderd oor die lewe te wees, en voluit te leef!
In die liedjie “I Hope You Dance”,
word die volgende gedagtes gesing:
Mag jy werklik saam met die lewe dans!
Mag jy nooit jou sin van verwondering verloor nie.
Mag jy altyd genoeg hê om te eet.
Mag jy altyd jou honger na die Here behou.
Mag jy nooit een asemteug as vanselfsprekend aanvaar nie.
Mag die Here gee dat die liefde jou nooit met leë hande laat nie.
Mag jy steeds klein voel in die groot skepping van God.
Mag jy die deur vind wat God oopmaak as ‘n ander een toegaan.
Mag jy deurgaans geloof en hoop in jou lewe ‘n groot kans gee.
Mag jy, wanneer jy die keuse het om te sit of te dans,
altyd saam met die lewe dans!
Omskep dit in ‘n persoonlike gebed en bid dit gereeld....opreg.
Moenie net bestaan en asemhaal nie.
Onthou 2 Timoteus 2:11:
“As ons saam met Jesus gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe.”
Nie eendag nie, maar nou!
Leef nou!....saam met die Here.
“Ek het gekom om julle die léwe in oorvloed te gee”....sê die Here.
Lééf!
Ernest