1 Tessalonisense 4:13:
“Dan sal julle ook nie treur soos die ander mense
wat geen hoop het nie.”
Evanescence sing ‘n treffende lied: “My Immortal.”
Dit gaan oor die pyn wat jy ervaar wanneer jy ‘n geliefde verloor.
Amy Lee, die groep se sanger, het haar jonger suster verloor
toe dié nog baie jonk was.
Sy sing oor die waarheid van hartseer herinneringe so:
“I wish that you would just leave,
because your presence still lingers here and it won’t leave me alone.
These wounds won’t seem te heal, this pain is just too real.
There’s just too much that time cannot erase.”
Evanescence noem die lied, ironies, “My Immortal”. My onsterflike.
Tog lê daar ook waarheid hierin. Dood eindig ‘n aardse lewe,
maar dit kan nooit ‘n verhouding laat eindig nie.
‘n Liefdesverhouding met ‘n geliefde bly voortleef in ons herinneringe.
Wanneer Paulus sê dat ons nie treur soos mense sonder hoop nie,
dan weet ons hy verwys na die ewige lewe wat ons in Christus ontvang.
Hierdie belofte en die feit van sy ewige teenwoordigheid versag ons pyn.
En ook die belofte van die bestemming van iemand wat sterf,
en die ewige lewe het. Dit versag ook ons pyn.
Een van die treffendste voorbeelde van herinneringe wat bly voortleef
word gevind in die “Trail Of Jesus” van John Masefield.
Daarin vra Pontius Pilatus se vrou vir ‘n Romeinse soldaat:
“Dink jy Hy is waarlik dood?”
“Nee, edele vrou”, antwoord die soldaat.
“As Hy nie dood is nie, waar is Hy dan?”, wil sy verder weet.
“Los in die wêreld, edele vrou”, antwoord die soldaat.
“Hy is nou orals! Los in die wêreld waar niemand en niks
Hom of sy waarheid sal kan keer nie.”
Handelinge 8 vertel hoe ‘n hewige vervolging van gelowiges
na die dood van Stefanus gevolg het.
Al die gelowiges is uitmekaargejaag en verstrooi.
Stefanus is begrawe en daar is baie oor Hom gerou.
En dan staan daar hierdie treffende vers 4:
“Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is,
het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.”
Herinneringe aan Wie Jesus is, hulle liefde vir Hom,
en Stefanus se dood vir Hom, het bly voortleef,
en soos ‘n veldbrand versprei tot vandag nog.
Ons treur inderdaad nie soos mense sonder hoop nie.
Ons verhoudings leef voort.
En ons verhouding met die Here leef voort tot in ewigheid.
Ernest