In hierdie tyd, einde Julie en begin Augustus, van elke jaar,
begin die Drolpeer bloeisels die bosveld versier.
Die gewone Drolpeer-boom, die Dombeye Rontundifolia,
is ‘n algemene bosveld boom noord van die Vaalrivier,
wat die mooiste klosse wit bloeisels maak.
Hierdie boom staan bekend as die bruid van die bosveld.
Dit is die eerste boom wat bloei nog voor die lente eers begin.
Iemand het gesê hy wonder hoekom die Skepper
hierdie boom só vroeg reeds laat bloei en blom,
nog in die midde van die koue winter!
Dalk, omdat die bosveld winters so koud en droog en kras is,
wil die Skepper vir die natuur en vir óns tekens van hoop gee,
dat die winter tyd amper verby is.
Ons sien die Drolpeer bloeisels nie altyd maklik raak nie,
kyk dit selfs maklik mis,
en ons raak gewoonlik eers opgewonde oor
die einde van die winter as die bloeisels orals begin uitkom.
In ons lewe gaan ons ook deur moeilike tye.
Winter tye. Koue, droë en kras tye.
In daardie tye gee God ook aan ons tekens van hoop,
en die verandering van seisoen in ons lewe wat aan’t gebeur is.
Dat dit weer beter sal gaan, en dat ons Hom moet vertrou.
Selfs al is die probleem nog nie uitgesorteer nie,
wil Hy hê dat ons Hom moet vertrou vir die uitkoms daarvan.
Dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir die wat Hom liefhet.
Dat ons reeds die tekens van verandering sal raaksien,
soos met die Drolpeer. Sal raaksien dat Hy in beheer is.
Ons wil dit eers begin raaksien as daar massas tekens,
“bloeisels”, rondom ons is.
Om te glo is tog “om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
– Hebreërs 11:1.
God help ons om te glo deur vir ons hierdie tekens van hoop te gee.
Soos bloeisels van die Drolpeer, onverwags.... in die wintertyd.
In die wintertye van ons lewe ís die tekens daar! Sien dit raak!
Soos in die natuur, gee God vir ons tekens van hoop. Jeremia 29:11:
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here:
voorspoed en nie teenspoed nie;
Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”
Sien die tekens van hoop raak, en leef met verwagting!
Ernest