Ons gee so dikwels aan iemand anders die skuld,
wanneer dinge nie loop soos ons dit wil hê nie.
Dit is jou kollega, of jou lewensmaat, of die kinders,
of die regering, of die kerk...almal behalwe ek.
Seneca, die Romeinse filosoof,
het gesê dit is makliker om ander mense se sondes
hier reg voor ons raak te sien,
as ons eie sondes en foute hier reg agter ons.
Ons praat van blaam verskuiwing. “Blameshifting”.

Dit kom al van die begin af.
Genesis 3:13: “Toe vra die Here God vir die vrou:
“Wat het jy nou gedoen?” en sy sê:
“ Die slang het my mislei en ek het geëet.”
Adam beskuldig Eva dat sy hom die verkeerde ding laat doen.
En sy beskuldig die slang. Die een blameer die ander.

Blaam verskuiwing kom eers tot ‘n einde wanneer ons
aanspreeklikheid vir ons eie lewe vóór God aanvaar.
Wanneer ons nie voortdurend ander mense en
instansies blameer vir ons eie lewe nie.
Aanspreeklikheid vir jou eie lewe bring jou ook by
opregte belydenis van sonde voor die Here.
Dit laat ook die regte soort groei onder leiding van
die Heilige Gees in jou plaasvind.
Tot dan leer jy net mooi niks in die lewe nie.

Wat is God se wil?
Sy wil is dat ons aan Hom moet vashou in ons seer en swaar,
en nie dat ons gedurig die vinger na ander wys nie.
Ons kan inderdaad “waarom”-vrae vra.
Maar, soos Job ons leer, ons moet dit op God rig,
en nie sy hand laat los in die proses nie.
Ons kan stoei met God,
om sin te maak van ons omstandighede.
Die Bybel is vol van sulke voorbeelde.
Soms voel ons tog dat net mooi niks meer sin maak nie.
Maar ons weet tog om in sulke tye, teen alle omstandighede in,
te bly hoop en te bly glo.
Ons weet dat ons nie sonder God kan nie. Ons weet.
En boonop weet ons dat God Hom oor ons ontferm.

Ernest