“Ek het rus en kalmte gevind.
Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.” Psalm 131:2.
Die meeste van ons leef in ‘n wêreld van geraas,
beweging en baie aktiwiteite.
Vir die meeste van ons kom stilte maar swaar.
Tog weet ons hoe noodsaaklik dit is om stil te word.
Sonder stilte wen geraas, en geraas kan baie leeg wees.
In die teenwoordigheid van God wen stilte.
Dan kan ons net stil raak in heilige stilte.
Hoe kan ons dit in elk geval regkry om doelbewus
in die teenwoordigheid van die Skepper van die heelal
te kom en besig te wees, te besig te wees om Hom te hoor.
Regtig te hoor.
God se heiligheid dwing ons op ons knieë....
Ons woorde word eintlik minder en ons dink aan Romeine 8:26:
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by:
ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,
maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge
wat nie met woorde gesê word nie.”
In sulke oomblikke eer ons die Here God in stil nederigheid.
In stilte voor die Here groei ons ook in vrymoedigheid
om met Hom te praat.
Stilte is ons posisionering voor God.
En ons praat eers na ons Hom gehoor het.
As’t ware op sy uitnodiging.
Karl Rahner het gesê:
“Gebed is om in stilte by God te wees net soos ek is.
‘n Mens kan dit ‘n ontmoeting met stilte noem,
die stilte van God wat op my wag.
Noem dit gebed. Noem dit die lewe.”
Ernest