‘n Koning het twee seuns gehad wat gereeld by hom kom kuier het.
Die een seun het net altyd kom kuier om dinge van sy pa te vra.
Wanneer hy dit ontvang het, het hy ook dadelik vertrek.
Die koning het daarom ook opdrag aan sy knegte gegee
om vir hom te gee wat hy wou hê, sodat hy kan gaan.
Die tweede seun het by sy pa kom sit wanneer hy kom kuier.
Hy wou net in sy pa se teenwoordigheid wees,
om met hom te kuier en hom te geniet, sonder om haastig te wees.
Die koning het ook nie dadelik gegee as hy iets wou hê nie.
Hy wou op die manier die kind langer in sy teenwoordigheid hê.
Altwee het só mekaar se opregte liefde beleef en waardeer.
Dit het die koning se hart gebreek dat sy ander kind net altyd
dinge van hom wou hê, maar nie sy liefde en geselskap nie.
Hierdie beeld laat ons ook dink aan ons gebed-verhouding met God.
Hy wil ons graag in sy geselskap hê. Hy wil ons by Hom teenwoordig hê.
Hy wil ons liefde en waardering beleef, omdat Hy dáárna verlang.
Matteus 6:6: “..as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe,
en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie.
Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
Hy gee ook nie dadelik wat ons vra nie, of gee dit glad nie,
omdat Hy in sy liefde vir ons beter weet,
en ons nie bedorwe geestelike brokkies wil laat word nie,
wat dink ons kan net ons vingers klap en God sal reageer.
Matteus 6:8: “..want julle Vader weet wat julle nodig het,
nog voordat julle dit van Hom vra.”
God wil hê ons moet aan sy voete sit en luister, en saam gesels.
Soms net woordloos by Hom wéés. Aktief luister.
Sodat ons diep bewus kan wees van die heiligheid
en grootheid van ons almagtige Vader.
Dikwels het ons soveel woorde dat dit in die pad staan
van ons ontmoetings met God.
Met eerbied gesê; ons praat soveel, en vra soveel,
dat God nie ‘n woord inkry nie, en ons nie sý wil hoor nie.
Net om by die Here te wees, net om bý die Here te wéés,
as sy kind by ons Vader,
moet die hoogtepunt van ons bestaan wees...
Ernest