God se wil word nie op ons afgedwing nie.
Sy wil laat aan ons ruimte. Ons het keuses.
Dit is immers hoe die liefde werk.
Jy kan nie iemand dwing om jou lief te hê nie.
Hoe weet ons of ons keuses reg is?
Die Woord van God lei ons daarin.
Die Heilige Gees werk deur die Woord van God.
God se wil is in sy Woord geopenbaar.
God kom demonstreer dit selfs verder aan ons in Jesus Christus.
God se wil is nie, met respek gesê, ‘n geestelike dobbelspel nie.
Ons is nie soms gelukkig genoeg om reg te wees,
en ander kere ongelukkig, om dan verkeerd te wees nie.
God se wil is ‘n verhouding!
Jy is in God se wil omdat God jou liefhet.
Jy kan egter die keuse maak en doelbewus kies om daaruit te tree.
Maar onthou, dit is jou keuse. Die goeie nuus is egter dat God
nie dan eenvoudig sy rug op jou draai wanneer jy val,
of in die modder wegsink nie.
Hy sal jou aanhoudend opsoek omdat Hy jou wil teruglei
na ‘n verhouding met Hom. Hy is die goeie Herder.
Helaas dra ons die gevolge wat dwase keuses dikwels inhou.
Maar God skryf jou verseker nie af nie.
Ons leef in ‘n sondige wêreld waar die Bose gereeld probeer
om ons uit ‘n verhouding met God te dwing. Hy rus nooit....
Hy wil gedurig God se skeppingswerk vernietig,
en ons is die kroon van God se skepping. Lees gerus Psalm 8.
Die Bose doen alles in sy vermoë om God se wil te dwarsboom.
Daarom leer die Here ons in Matteus 6:13 om te bid:
“Laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.”
Leef wakker en nugter, en weerstaan die Bose.
Leef doelbewus in verhouding met God.
Dit is wat God se wil is.
Hy fokus nie op ons foute nie, maar op die verhouding.
In hierdie verhouding kan ons bely en leef uit sy vergifnis.
Gaan leef!...saam met God!
Ernest