Ons kan maklik in die gewoonte verval om net dagstukkies te lees,
in plaas van die Bybel self. Die Heilige Gees werk deur die Woord.
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde...”-
2 Tim. 3:16
Ons moet die Woord van God lees om self te hoor wat Hy
in ons omstandighede vir ons sê.
Daarom moet ons moeite doen om die Woord van God te lees.

Ons moet dit lees en oordink omdat dit die Woord van God is!
Dit is wat God vir ons sê. Dit is waarmee Hy in gesprek met ons is.
Dit is sy wil vir ons wat vir Hom lewe en Hom liefhet.
Die Heilige Gees lei ons elke dag om vir God te leef,
en Hy doen dit uit die Woord van God. Want God het óns eerste lief!

Hoe moet ons die Woord lees en oordink?

Lees die Woord van God gereeld. Soos jy kos nodig het om te leef,
het jy die Woord van God nodig om vir Hom te leef.

Lees die Woord van God sistematies. Moenie net rond en bont lees nie.
Moenie die Woord net lees waar dit oopval nie.
Of net jou gunsteling gedeeltes nie. Lees een boek deur,
en dan weer ‘n ander. Lees uit die Ou Testament en die Nuwe Testament.

Lees ook die Bybel met eerbied en ontsag.
Ons lees nie net die Bybel om net kennis op te doen nie,
maar om God te gehoorsaam en vir Hom te leef!
Die Woord van God is nie net nog ‘n interessante boek nie.

Lees die Woord van God met geloof en gebed.
Oordink die Woord. Glo wat God sê. Bid daaroor en daarvoor.
Lees aandagtig en met die doel om te verstaan en te doen.
Elke gedeelte het ‘n boodskap van God vir jou.
Die Here steek nie waarhede weg wat ons moet “ontdek” nie.
Hy wil hê dat ons moet verstaan en glo en doen.

Lees met drie vrae in gedagte:
Wat staan hier presies in die Woord?
Wat sê die Here nóú hierdeur vir my?
Wat is my antwoord daarop met my lewe?
Gebruik hulpmiddels soos gidse en kommentare as jy kan.
Maar moenie dit doen net met die oog op kennis nie.
Lees die Woord van God met die oog op persoonlike
groei in gehoorsaamheid en karakter voor God.

Geniet dit bo alles!.... om God te hoor en te gehoorsaam.
Laat dit deur die Heilige Gees lewens veranderend wees!

Ernest