Die Bybel is waarlik die Woord van God!
Die inhoud en die boodskap van die Bybel kom nie
in die eerste plek van mense af nie, maar van God af.
God praat deur die Woord self met ons.
Hy openbaar aan ons Wie Hy is en wat Hy doen.
Maar God gebruik mense om dit te doen,
en daarom is die Bybel God se Woord in mensetaal.
Die Heilige Gees het in mense gewerk om God se boodskap
aan ons neer te skryf oor ‘n tydperk van ongeveer 1500 jaar!
Die Bybel het nie “persklaar” uit die hemel geval nie.
God het oor eeue en eeue aan die mens kom wys Wie Hy is,
en hoe Hy ons liefhet en lei om vir Hom te leef.
Ons moet nie van die Bybel ‘n boek probeer maak wat dit nie is nie.
Die Bybel is nie ‘n wetenskap handboek wat wetenskap vrae beantwoord nie.
Dit is nie ‘n geskiedenis handboek wat vertel hoe alles gebeur het nie.
Die Bybel is nie ‘n ensiklopedie of “Google” wat alles oor alles wil sê nie.
Die Woord van God is ook nie ‘n boek oor toekoms voorspellings nie.
Die Bybel kom stel God aan ons bekend. God self doen dit.
God kom openbaar Hom as Drie Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.
God kom openbaar ook wie ons is, dat Hy ons liefhet,
en wil hê dat ons vir Hom moet leef. Dit gee aan ons God se wil vir ons lewe.
Daarom is die Bybel ‘n betroubare gids met beginsels en riglyne vir ons lewe.
Die Bybel verkondig God aan ons. Die goeie nuus van verlossing en redding.
Die Woord stel ons in ‘n persoonlike verhouding met God.
Die Woord van God lei ons om dankbaar teenoor God te lewe.
Die Heilige gees lei ons deur die Woord om daagliks as kinders van God te leef.
Daarom het die Bybel gesag. God se gesag.
God praat met ons deur die Woord met sy gesag. Ons glo en gaan doen.
Al glo die wêreld anders oor die Bybel. Ons glo God.
1 Kor. 1:23 het al gesê dat baie mense die Woord van God as onsin sal afmaak.
Die Heilige Gees gee aan ons hierdie geloof in die Bybel, as die Woord van God.
Daarom glo ons 2 Timoteus 3:16:
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde....”
Lees en leef die Woord van God!
Ernest