Ons moet self gereeld in die Woord van God wees.
Dan sal ons ook die Woord van God kan leef.
En dan sal ons ook die passie hê om God se Woord te versprei.
Ons moet ook as medegelowiges “saam leef” in God se Woord,
om saam God se wil te ontdek, en saam God se wil uit te dra.
So kan ons deel wees van God se sending in hierdie wêreld as sy gestuurdes!

Hierdie hele proses vind plaas onder inspirasie van die Heilige Gees,
omdat die hele Skrif deur God geïnspireer is - 2 Tim. 3:16.
Behalwe dat ons die Woord van God onder leiding van die Heilige Gees lees,
en die Woord van God onder leiding van die Heilige Gees uitleef,
versprei ons ook die Woord van God, geïnspireer deur die Gees.
Dit is God se opdrag aan ons.

Filippense 2:15-16 sê dat ons as God se ligdraers in hierdie wêreld moet optree.
Hoe? Vers 16 sê “...deur die woord van die lewe uit te dra.”
Ons dra die Woord uit met woord en daad. Getuienis, dade en Bybelverspreiding.
Ons dra nie net by tot Bybelverspreiding nie,
maar gaan gee ook die Woord in iemand se hande. Soveel ons kan. Oral.
Handelinge 1:8 sê ons begin waar ons is, en tot aan die uithoeke van die wêreld.

In 2 Tessalonisense 3:1 sê Paulus dat ons moet bid.
Waarvoor moet ons bid? Kyk mooi:
“...sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral oorwin...”!
Die woord “vinnig” dui op die dringendheid van Bybelverspreiding ook!
2 Tim. 2:9 sê ook “...die woord van God kan nie geboei word nie.”
Dit motiveer ons nog meer!
Ons kan die Woord soos ‘n veldbrand, gejaag deur wind,
laat versprei as ons aan die Heilige Gees gehoorsaam is.
Die Woord is lewend en kragtig...skerper as enige swaard, sê Heb. 4:12.
En dit bly vir ewig – 1 Pet. 2:25.
Daarom kan ons in hierdie wêreld gaan veg met die swaard van die Gees,
dit is die Woord van God, volgens Ef. 6:17.

Wanneer ons in Romeine 1:16 lees dat die Evangelie ‘n krag van God is,
tot redding vir elkeen wat dit glo,
dan kan ons as kinders van die Here nie anders nie,
as om ‘n passie te hê om God se Woord te versprei!
Kom ons doen dit dringend!
“...sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral oorwin...”!

Ernest