In Markus 1:15 sê Jesus:
“Die tyd het aangebreek,
en die koninkryk van God het naby gekom.
Bekeer julle en glo die evangelie.”
Jesus het God se koninkryk na ons toe gebring.
Sy nuwe wêreld waar vrede heers.
So weerklink dit in sy heel eerste preek.

Die kerk is ‘n belangrike sigbare bewys van God se koninkryk.
Maar die kerk is nooit ‘n doel opsigself nie.
Dit wil voorkom asof baie kerklidmate dit nie mooi verstaan nie.
Die kerk van Christus staan altyd in diens van die koninkryk.

Volgens Jesus gebeur toegang tot die koninkryk van God deur bekering.
Ongelukkig word bekering dikwels afgewater tot een of ander
morele gedragsaanpassing. Bekering, vir Jesus,
is nie net ‘n koers aanpassing nie. Bekering is om daagliks, orals,
en tussen almal, radikaal anders te dink en te leef,
in die lig van God se nuwe ryk wat aangebreek het.
Die koninkryk van God, soos wat Jesus dit gebring het tydens
sy aardse optrede, ken nie ‘n eie godsdienstige wêreld
wat verwyderd is van die “regte wêreld” nie.
Die koninkryk is nie ‘n eie godsdienstige instelling
wat sy eie organisasie en programme loop nie.

Binne die koninkryk van God is almal wat God ken voltyds in diens.
Daar is nie komitees of kommissies of rade wat moet sending
en barmhartigheid en evangelisasie doen nie.
Almal is gestuurdes van die Here om dit alles vir Hom te doen
waar jy ook al lewe. Voltyds in diens in die koninkryk van God.
Ons is almal deurgaans lig, sout en suurdeeg. Mosterdsaad.
Sendelinge, gestuurdes, verkondigers, bemoedigers, werkers.
Ons stuur nie iemand “kerk toe” vir hulp nie. Ons is die kerk.
Die kerk dien die koninkryk en ons leef in die koninkryk!
Die kerk is ons in die wêreld.

Die gelykenisse van Jesus beklemtoon dikwels dat
die koninkryk van God verrassend gebeur, onvoorspelbaar,
selfs vreemd en skokkend, en nie altyd gemaklik vir ons nie.
Dit gebeur boonop vanself. Die koninkryk se saad groei vanself,
terwyl die werkers rustig slaap.
Al wat saak maak is dat die regte grond met die koninkryk saad
bereik word waar oeste 30 en 60 en 100-voudig gewaarborg word.
Nie menslike inspanning of insig nie, nie instellings nie,
maar Goddelike genade is in die koninkryk van God die sleutel.
Meld aan in die koninkryk van God. En dien!

Ernest