Anders as sommige godsdienstiges,
wat dink al die sout in God se koninkryk moet op
een hoop bymekaargemaak word,
as bewys van kerklike sukses,
gebeur die koninkryk van God, volgens Jesus in die Bergrede,
verrassend anders. Dit gebeur wanneer ‘n paar
sout korreltjies ‘n groot stuk vleis verander.
Wanneer ‘n klein bietjie suurdeeg ‘n groot deeg verander.
Wanneer ‘n klein liggie groot duisternis verdryf.
Getalle of volume is nooit outomaties die sleutel tot sukses
in die koninkryk van God nie.

Doodgewone volgelinge van die Here maak saak en maak die verskil.
Gewone gelowige mense wat aktief sout en suurdeeg en lig is.
Matteus 13:43: “Dan sal die gelowiges in die koninkryk van
hulle Vader skitter soos die son. “Wie ore het moet luister.”
Die koninkryk word dikwels gesoek in die vriendekringe van godsdienstiges.
Maar dit word veral verrassend gekry op ander plekke...
Die koninkryk sluit volgens Jesus randfigure in soos vrouens, kinders,
vreemdelinge, armes en verstote mense.
God se aardse ryk realiseer juis by mense wat sy genade
met bedelaars hande aangryp.

Waar loop ons vandag die koninkryk raak?
Eintlik is die vraag verkeerd.
Die koninkryk gebeur net mooi andersom.
Dit vind jou iewers in jou alledaagse lewe. Verrassend.
Die koninkryk gebeur by verre die meeste van die tyd onverwags.
Soos Jesus sê, wanneer jy ‘n skat in ‘n saailand ontdek.
Dan verkoop jy letterlik alles wat jy het om daardie skat te bekom.
Verrassend. Onvoorspelbaar. Is die koninkryk van God.
Moenie by dit verby leef nie!

Ernest