Die koninkryk van God wág nie vir die wederkoms nie.
Die koninkryk word nou en hier deur God se kinders uitgeleef.
Die koninkryk van God is reeds in ons midde.
Jesus bevestig dit in uitsprake soos Lukas 17:21,
“..want die koninkryk van God is hier by julle”,
dat ons nie die koninkryk hoef te soek nie,
omdat dit klaar in ons midde is.
Nogtans is die koninkryk van God ook op pad.
Hierdie komende koninkryk is die wederkoms van Christus.
Die woord “komende” is belangrik. Dit dui daarop dat ons nie
passief sit en wag vir ‘n datum vir die wederkoms nie.
Die koninkryk is daagliks aktief komende! Besig om te kom.

Baie gelowiges het die idee dat die datum van die wederkoms
vas en onveranderlik bepaal is.
“Niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie,
selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die Seun nie.
Net die Vader weet dit.”
Jesus se woorde dat Hy nie weet op watter dag dit sal wees nie,
volgens Markus 13:32, het die idee laat posvat dat ons nou maar net
moet sit en wag vir daardie datum. Jesus het dit nooit so bedoel nie.
Hy wil eerder met hierdie woorde alle bespiegelings uit die weg ruim
oor wanneer dit sal plaasvind.
Ons is nie geroep om dit te weet nie, maar om gelowig die
koninkryk van God te laat uitbrei in hoe ons leef, terwyl ons hier leef!
Ons leef met verwagting op Christus wat komende is, elke dag!
Die Here se koms gaan nie oor ‘n onbuigsame datum op die hemel
se kalender waarvoor ons sit en wag nie, maar oor ‘n dinamiese
aktiewe proses wat heeltyd komende is.

Die eerste bewys hiervan is die Here se woorde in die Ons Vader gebed.
Jesus leer ons om te bid dat die koninkryk moet kom.
Ons opdrag is om die wederkoms nader te bid.
Ons bid aanhoudend tot God om die tyd korter te maak en ons te kom haal.
In Lukas 17 vertel Jesus ‘n gelykenis wat op die wederkoms van toepassing is.
Hy nooi ons uit om God te smeek om gouer terug te kom tot ons redding.
Leef met ‘n wederkoms verwagting,
waarin jy die koninkryk van God met ‘n dringendheid laat grondvat,
in jou wêreld, deur daar vir die Here te leef!

Ernest