“Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!”
Amen! Kom, Here Jesus!” – Openbaring 22:20.

Openbaring 22 is ‘n verstommende hoofstuk
oor die dinamiese aard van die wederkoms.
Dit beklemtoon dat die wederkoms nie ‘n statiese realiteit is nie.
Jesus se koms is op hande! Hy is komende. Besig om te kom.
En verse 7 en 12 sê: “Kyk, Ek kom gou!”
Dan reageer die Gees en die kerk dadelik in vers 17 met
die uitnodiging aan die Here dat Hy moet kom!
Hierop antwoord Jesus: “Ja, Ek kom gou!”
Jesus is duidelik nie uitgelewer aan een of ander vaste datum nie.
Hy kom gou op die opregte uitnodiging van die kerk.
God sal die tyd korter maak soos die Woord ons leer
oor die eindtyd in Markus 13 en Matteus 24-25.

God is die God van verhoudings.
Alles wat God met sy skepping doen is verhoudingsmatig.
God leef met die mens in verhouding. ‘n Liefdesverhouding.
Ons is nie ‘n blote objek in God se skepping nie.
Daarom is die wederkoms ook nie ‘n vaste datum
in ‘n bloudruk program nie.
Die wederkoms is deel van God se dinamiese
en verhoudingsmatige plan met die mens.
Dit is deel van God se plan dat die fees moet aanbreek.
Daarom is dit deel van ons gebed in die Ons Vader gebed.
Laat U koninkryk kom...

Dit is ook die bedoeling van die woorde van Jesus
in Openbaring 22. Dat ons Hom aanhoudend
uitnooi om gou na ons te kom!
God hoor as sy uitverkorenes dag en nag tot Hom roep.
Dit is die boodskap van die gelykenis in Lukas 18:1-8.
God luister na sy uitverkorenes wat na Hom roep.
Ons sien uit na sy koms en bid die tyd korter.
En met dringendheid, en die wete dat Hy kom,
brei ons sy koninkryk uit hier op aarde!

Ernest